Description
Hans het geen begeerte om ná soveel jare sonder sy geliefde Saartjie weer vrou te vat nie. Hy leef heel gemaklik alleen in Huis Madeliefie. Maar alles verander wanneer ‘n nuwe inwoner, Liefiediefie, in die tehuis land. Met haar Marilyn Monroe-gesiggie en Jane Fonda-lyfie veroorsaak sy ‘n heidense herrie onder die mans en roer sy iets in Hans se gemoed los. Nog ‘n aantreklike nuwe inkommer, Janneman Vermaak, en Hans se nuwe buurman, kry egter al Liefiediefie se aandag. Hy het die ander inwoners ook gou onder sy duim met die opwindende talentkompetisies wat hy reël, waar groot prysgeld elke keer gewen kan word. ‘n Verdere pen word in Hans se hart gedryf toe hy besef hierdie opperse snoeshaan het sy posisie as leidsman in die tehuis oorgeneem. Hy begin aanvaar dat ‘n ou viool nie meer nuwe liedjies kan speel nie. Maar die ou Hans van Kraaienburg ontwaak gou wanneer hy aan sy broek se naat voel daar vind ‘n gekonkel by die talentkompetisies plaas . . .