Die heelal op my tong (Sagteband, 384 pg) Anoeschka Von Meck

Skrywer van Vaselinetjie.

Daar is ’n kluis in ’n winkeltrollie op die dak van Wille Willemien se 4×4.

Want sy en haar sus is op pad. Richtersveld toe. Om tussen Eksteenfontein en Khuboes hul pa se kluis – en sy sneeujas – nou ná sy dood oor ’n afgrond te boender.

Terwyl die twee vroue reis, ontvou die verhaal van Willemien en haar pa:

’n Storie oor ’n Afrikaanse Al Capone, ’n man wie se duister sakeondernemings nie net tot die grense van Suid-Afrika beperk was nie. In Palm Springs dra sy lyfwagte koeldrank vir die fbi-agente aan vanwaar hulle sy huis dophou. Vroeër jare moet Willemien in haar pa se kattebak wegkruip terwyl hy sake in verlate parkeerareas doen. Ná sulke uitstappies was haar beloning altyd ’n lekkerny, en só word haar lewenslange stryd met kos aangevuur.

Van Kaapstad na San Francisco en selfs Sri Lanka, met ’n wavrag vol seks, drugs & rock ’n’ roll, tref Anoeschka von Meck se nuutste roman jou soos ’n reusegolf en spoel sy die verhoudings oop wat van ons denkende, spirituele wesens maak.

Anoeschka von Meck

R290.00

Available on back-order

SKU: 9781485904106 Categories: , ,

Description

Elkeen het ‘n heelal in hul mond. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal.

Willemien is keelvol vir dik wees. En bang wees vir kaas en vir inkopies doen. Hoe kan mens so verwyderd van jouself wees dat jy van buite liederlik obees is, maar in jou kop sing jy vry en kaal op ‘n krans? Sy wonder waar kom die rondomskrik van haar lyf vandaan terwyl sy en haar sus in die vretende hitte van die Richtersveld ‘n kluis in ‘n winkeltrollie sleep. Willemien is vasbeslote om dit oor ‘n afgrond te boender.

Voor hul eindbestemming het die langpad se strepe Willemien soos ‘n ritssluiter oopgetrek. Dit smaak haar daar is ‘n heelal op haar tong. Vir eens moes sy haar sprokieskarakter opgee om haar ware self te wees én te wys. Sy het dekades laas haar lyf bewoon. Haar suster moes hoor van die verlede. Van hul aardige ouers wat banger was vir oorgewig as ‘n grondeis. ‘n Ma wat paniekaanvalle oor suiwel en selluliet gekry het en ‘n pa wat geen imperfeksie by sy vrou of dogters geduld het nie. Kilogram vir kilogram wou Willemien bieg en haarself dun praat. Die tong het immers mag oor lewe en dood.

Dié is ook die storie van Pa. Húlle pa. ‘n Lagslimme Afrikaanse Al Capone, wie se innoverende sakeondernemings hom soms gedwing het om sy kantoor van agter tralies te bedryf. In Palm Springs dra Pa se lyfwagte koeldrank vir die fbi-agente aan vanwaar hulle die dollarboer en sy trigger-happy brigade dophou.

Van Kaapstad na San Francisco en ‘n dwelmdieet in Sri Lanka – met ontvoerings, partytjies, ‘n seksles in Hongkong se hawe en ‘n onvermydelike ontmoeting met ‘n onbekende man – tref Anoeschka von Meck se nuutste roman jou soos ‘n reusegolf en spoel sy die verhoudings oop wat van ons soekende, spirituele wesens maak.