Description
Geskiedkundige gebeure word uitstekend verweef met die fiktiewe karakters & storie.
Marcus Moore, half-Iers, roep sy armoedige ouerhuis in Skotland vaarwel toe ná ‘n gewelddadige voorval. Sy oë is vol blink klippies en hy klim op ‘n skip na Suid-Afrika. Sy droombestemming is die diggings in Kimberley en later die woelige Goudstad. Hy is nie alleen nie: die myne wemel van dromers. Hy leer legendariese fortuinsoekers, swendelaars en selfgemaakte magnate soos Barney Barnato ken. Hy skuur ook skouers met historiese figure soos Olive Schreiner, Cecil John Rhodes en Paul Kruger. Dit handel oor ‘n fassinerende tyd in ons geskiedenis en die verhoog is wyd – dit wemel van aksie en drama. Oor alles val die skadu van die Empaaier. Daar is ook ‘n tydlose liefdesverhaal aan die hart van hierdie roman. Dis goed nagevorsde lekkerleesfiksie in die tradisie van Lerina Erasmus en Wilbur Smith, oor ‘n tyd toe edelstene dieper as drome gelê het.
Marko van der Colff is in 1946 in Kaapstad gebore en daar getoë en was van Sub A tot matriek in Jan van Riebeeck. Hy het BA Drama & Honneurs in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Hy was verhoogdirekteur, regisseur en akteur by TRUK, SUKOVS EN KRUIK, en van 1985 – 1988 omroeper/regisseur en TVdraaiboekredakteur by die SAUK. Daarna was hy vryskutakteur, vervaardiger, stemkunstenaar en kroegeienaar. Hy is ’n dramaturg en vertaler van dramas en ’n gereelde gesig op die silwerdoek en in TV-reekse soos Vallei van die sluiers. Die liefdes in sy lewe is lees, musiek, fotografie, Tafelberg en ander berge, sy drie kinders, sy kleinkinders, sy diere, sy lewensmaat, nie in enige volgorde nie.