Description
“Stefaans Coetzee se pa was ’n alkoholis. Toe hy ses was, het sy ma hom kafee toe gestuur. Met sy terugkoms was sy weg. Van kleins af moes Stefaans veg vir aanvaarding en liefde, by die huis en in die kinderhuis.
Sy storie begin in die Vrystaat, loop deur donker dade in Worcester, via verskeie tronke, tot op Klerksdorp. Dit is die verhaal van ’n seun wat die heel ergste sou doen, vir aanvaarding.
Dit is ook ’n verhaal van hoop, genade, en tweede kanse. Dit wys dat enigeen kan verander. Jy ook.”
Stefaans Coetzee is ’n aktivis vir versoening, geregtigheid en restitusie. In Julie 2015 word hy op parool vrygelaat nadat hy 18 jaar tronkstraf uitgedien het. Hy werk as ‘n radio-omroeper en is ‘n motiveringspreker. Stefaans is ’n ywerige leser en reël elke jaar die Sanctuary Boekefees. Hy bly in Klerksdorp saam met sy vrou en drie seuns.