NV Oktober: Heimwee (Sagteband, 520 pg) Sophia Kapp

Laat asseblief 3 weke toe vir nuwe voorraad.

Dit het haar kom vind, hier op Heimwee, hierdie ontsaglike, ondeurgrondelike besef dat sy ryk gemaak is omdat sy liefhet. Lees meer hieronder.

 

Sophia Kapp

R350.00

Available on back-order

Description

Heimwee is die storie van Mart-Mari wat moet terugkeer na die familieplaas sodat sy haar ma kan begrawe en finaal kan afskeid neem van die familie by wie sy nooit tuis gevoel het nie. Maar in ʼn ondeurdagte oomblik betaal sy die knutselaar-nutsman-van-langsaan, Anton Nieuwoudt, om saam te gaan omdat sy vir haar susters gelieg het oor ʼn man in haar lewe. Gou besef sy dat hy hom nie laat gebruik nie. Hy is die alles-of-niks-tipe, wat haar dwing tot emosionele eerlikheid en die spieël voor haar ophou sodat sy bewus kan word van haar aandeel in haar gekompliseerde familieverhoudinge.
Dit is ook die storie van Liesbet Vermaak wat in die nadraai van die allergrootste vernedering alleen moet omsien na haar broers: Andries, die dromer, en Benna, die kind wat alles verstaan, maar nie met die wêreld kan kontak maak nie. Wat die foto van die soldaat steel sodat sy kan voorgee sy is getroud, maar dan op ʼn dag in Humansburg se hoofstraat opkyk in die helder heuning van Gert Niemand se oë en besef haar leuen het haar ingehaal.
Dis ʼn storie wat strek oor geslagte, van mense wat so seer gekry het dat hulle swerf, maar dis ook ʼn storie van heling. Boweal is dit die storie van moederskap, van die verskriklike prys wat dit soms vra, en van ma’s wat bo-oor die ewigheid sal reik om seker te maak hulle kinders is geborge.

Lesers se menings oor Heimwee:
• Heimwee is een van die ontroerendste verhale wat ek in ’n lang tyd gelees het. Sophia het ’n gawe om emosies te verwoord en uit te beeld sodat dit jou ʼn hou in die wind gee. Jy kan nie onbetrokke bly nie. (Chanette Paul)
• Sophia se beste nog. (Lynette Coetzee)
• Hartverskeurend mooi. ʼn Wonderlike goedvoelstorie. (Didi Potgieter)

Oor die outeur:
Sophia is ’n gewilde skrywer van romantiese en verhoudingsfiksie, met vier ATKV Woordveertjies op haar rak. Sy is ʼn ervare teksversorger en vertaler, en werk tans voltyds as die senior taaladviseur vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans, ʼn maatskappy sonder winsoogmerk wat digitale hulpbronne vir die Afrikaanse taalgemeenskap voorsien. Haar skryfwerk is al as kuns beskryf, en sy skryf vreesloos oor die diepste menslike emosies. Sy skryf oor die liefde tussen geliefdes, tussen ma’s en hul kinders, tussen susters en tussen vriende. Sy glo daaraan dat haar karakters tweede kanse moet kry, en dat hulle volkome gelukkig mag wees wanneer hulle hulle oopstel vir die liefde.