KATRIENA, VERTEL! (Herdruk, beperkte uitgawe) (Sagteband, 312 pg) (Beskikbaar vroeg Sept)

Katriena, vertel!  bevat ’n keur uit die drie Katriena-bundels, met die bonus van ’n handvol splinternuwe verhale.

Riana Scheepers

R230.00

Out of stock

Description

Katriena is terug!

Met Katriena het Riana Scheepers ’n onvergeetlike karakter geskep wat almal in Suid-Afrika laat lag het – vir onsself.  En nou is die onstuitbare Katriena terug met nóg meer kwinkslae en stories.

Katriena is ’n vrou met ’n knieg aan haar, en somtyds ook ’n rug en ’n elmboog, maar sy is ook ’n vrou met ’n hart. ’n Ruim hart vol deernis met die wêreld: vir bergies en wedevroue en vroue wat alleen die wêreld moet aandurf, maar veral vir die mêrrem van die halwe huis en haar twee onhebbelike seunskinders.

Met haar onblusbare vermoë om stories te vertel, pluk Katriena die lewe se skeefkante reg;  of dit nou is om te vertel van die man wat ’n Namakwalandse plaas geërf het, onder ’n skuilnaam,  of van die genade wat uit ’n leivoor kan kom, of van die vrou wie se geraamte so diep in haar lyf sit  …

Katriena, vertel!  bevat ’n keur uit die drie Katriena-bundels, met die bonus van ’n handvol splinternuwe verhale.

Riana Scheepers het in 2006 die Rapportryers se Erepenning ontvang vir die drie Katriena-bundels, as erkenning vir die bydrae wat dié vrolike verhale tot interkulturele samewerking en begrip onder die Suid-Afrikaanse publiek tot gevolg gehad het.

Die skrywer

Riana is ’n produktiewe en veelsydige skrywer. Haar boeke is topverkopers, in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy ontvang verskeie toekennings vir haar skryfwerk, onder meer die ATKV-Prosaprys, FAK-prys, Eugène Marais-prys en die ATKV-Kinderboekprys. Die Nederlandse vertaling van Blinde sambok, Scorpioenkind, is op die kortlys vir die Vlaamse Kinderjurie-prys (2004). In 2006 ontvang sy nie minder nie as vier toekennings vir haar werk. Die avonture van Wilde Willemientjie kry die KKNK se Kanna-prys vir die Beste Kinderproduksie. Sy ontvang die Rapportryers se Erepenning vir haar werk en kry die Patrick Petersen Gedenkprys vir haar totale oeuvre. Vir die kulturele bydrae wat  haar  bundel plaasverhale Die melkweg het ’n ster laat val in die landbougemeenskap gelewer het,  kry sy ’n spesiale toekenning van die Departement van Landbou (Wes-Kaap). In 2008 ontvang sy die gesogte Rapport/ City Press Prestige-toekenning as Vrou van die Jaar.

Riana besoek reëlmatig die buiteland; as reisiger en skrywer of as akademikus. Sy is passievol betrokke by geletterdheidsprojekte en die begeleiding van opkomende skrywers. Sy is ’n gewilde spreker wat dikwels optree as motiveerder en graag die rol van mentor vervul vir mense wat ’n hupstoot in die lewe nodig het, veral vroue.

Haar lewe is ruim, veelsydig en opwindend. Sy is nie net skrywer nie, maar ook plaaswerker, motiveerder, wynboer, restoureerder en aanbidder van die natuur. As wynboer is sy nou betrokke by die bemarking van De Compagnie se wyn en brandewyn, dien op die raad van verskeie instansies wat taalbemagtiging doen en die verantwoordelike gebruik van brandewyn promoveer. Voorts is sy passievol verlief op vervalle en beeldskone huise en verwaarloosde, historiese strukture. Saam met Johann, haar man, is hulle steeds besig om te restoureer: aan verlate volkshuise,’n hartbeeshuis, klipkrale, stalle, skure en ’n spookhuis. Daarom woon sy ook in die Tankwa-Karoo in ’n Karoohuis, en in die suide van Namibië in ’n spookhuis.