Description
Wat is ’n menselewe werd as jy minder as niks op jou naam het nie? Toe die regering besluit om ’n yslike dam in die diep, dorre Noord-Kaap te bou, is die skrif teen die muur vir die vergete dorpie van Bitterwater. Inwoners het ’n jaar tyd om hul dorp te ontruim en voor die groot water uit te vlug. Konstabel Cheslin Fielies is die een wat moet seker maak die hele storie gebeur betyds. Pas van die Cape Flats oorgeplaas, word hy gou in die dorpstories ingetrek: Hoekom verafsku die gemeenskap die drankwinkeleienaar Braam Pens so? Wat het Jan Boklam een nag in die dorpsdam sien gebeur? En spook dit regtig by die vervalle ou pastorie waar die Van Helsdingens probeer oorleef? Terwyl hy van sy eie spoke vlug en die Bitterwaters van die sondvloed probeer red, is dit sy onverwagse vriendskap met die dominee se vrou, Miriam, wat die krake in Cheslin se damwal blootlê. Want water is vergifnis, glo sy. Water is vergeet. Maar sommige geheime sal nie deur die vloed weggespoel word nie. Minder as water is ’n meesleurende tragikomedie wat jou gaan roer, jou gaan laat lag en uiteindelik die vraag vra: Wat gebeur met die mens wanneer hy voor sy einde te staan kom? Malan se werk is geken vir die sterk karakterisering en fokalisering, met elke karakter wat uitstaan as uniek, volrond en oortuigend mens. Met Minder as water dompel hy ’n ligsinnige grapjas van ’n hoofkarakter in ‘n situasie met diepte en donkerte waarvoor hy nie opgewasse is nie. Die gevolg is ’n fyn balans tussen humor en diepte, donker en lig. Malan se liefde vir Suid Afrika en sy navorsing oor die vreemder uithoeke van ons land staan oudergewoonte hier uit. Die landskap raak ’n karakter in eie reg, en Malan vang die unieke Noordkaapse dialek realisties en treffend vas.