Site icon Book Hub

NV Augustus: Die Chacma-Ekspedisie (Afrikaans, Paperback, 159 pg) Marius Ackermann

Waar die Krokodilrivier lui-lui deur die Noordwes kronkel, net ’n klipgooi van die Wieg van die Mensdom, is die wel en wee van twee histories aparte groepe op die punt om ineen te vloei. In die dorpie Kwenang (voorheen De la Rey) is korrupsie, wanbestuur en anargie aan die orde van die dag en is die vraag op die vooraand van die burgemeestersverkiesing of daar hoegenaamd nog ’n spreekwoordelike Moses is wat die dorp uit hul politieke verknorsing sal kan lei. Aan die ander kant van die rivier, teen die klipkoppies van die Schurweberg, sit Grootraad Makedaan (gerespekteerde leierbobbejaan) en tob oor die onregverdigheid van die “groot split”: die dag toe die regoplopers hulle rug op die handeviervoeters gedraai en so die gedeelde herkoms van die primate versaak het. Is dit dan nie Bo’jaan se roeping om aan Kwenang se komende burgemeestersverkiesing deel te neem, en so ’n bedeling van heling in plek van verdeling in te lui nie? Terwyl ’n bobbejaan in die noorde tot burgemeester ingehuldig word, is ’n gesiene emeritusprofessor en primaatnavorser, ’n internasionaal-erkende Britse fotograaf en ’n lenige boereblondine van die Kaap af na die Magaliesberg onderweg as deel van die Chacma-ekspedisie: ’n Brits-befondste ondersoek na pratende lede van die spesie papio ursinus. Toeval? Of die hand van die noodlot? In Die Chacma-espedisie steek Marius Ackermann goedig die draak met Afrika-politiek en -problematiek en sal selfs die mees siniese leser vir mens en dier se bobbejaanstreke kan lag.

Exit mobile version