Description
Hy kyk terug op ’n uitblinkerloopbaan as speler, wie se ingebore rugby-instink, vermoë om ’n wedstryd anders te lees, en aptyt vir harde werk hom nog altyd onderskei het. Terwyl sy spanmaats ontspan het, het hy dit verkies om na ure se videomateriaal te kyk om wenstrategieë uit te werk. Toe hy die geleentheid gebied is om as Springbok-kaptein vir sy land uit te draf, het hy dié eer van die hand gewys.
Rassie onthul hoe hy ’n belangrike deel van die ratwerk in Nick Mallett se rekordverpletterende Springbokspan van die laat 1990’s was. Hy onthou die pyn van die 1999-Wêreldbeker en die besering wat ’n einde aan sy loopbaan as speler beteken het. Hy bespreek sy revolusionêre afrigtingstegnieke, wat aanvanklik afgelag en toe met ope arms aangegryp is, hoe hy die rugbystrukture by die Stormers die stryd aangesê het en die teësinnige respek van die Ierse aanhangers by Munster verdien het.
Rassie praat oor sy grootste bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby, die aanstelling van die eerste swart kaptein, Siya Kolisi, sonder ’n groot ophef of omstredenheid, en hoe sy onverskrokke planne vir die effektiewe rassetransformasie van die nasionale span onmiddellike sukses behaal het, wat gelei het tot die Rugbywêreldbeker-triomf in 2019.
Lesers sal hulle verlustig in die agter-die-skerms-inliging oor interaksies, omstredenheid en voorheen onvertelde verhale uit ’n waarlik grensverskuiwende lewe.





