Description
Hulle is onder ’n kareeboom in die agtererf besig om na ’n janfiskaal te kyk wanneer haar tronkdokter-pa by Rosaria bieg dat ook hý ’n tipe laksman is. By Pretoria-Sentraal, waar hy die gehangdes se doodsertifikate uitreik, dien hy soms ook die genadeskoot toe. Maar sê nou van daardie tereggesteldes was onskuldig? wonder Rosaria.
Nou, jare later, en kort ná die raaiselagtige dood van haar dogter Annalisa, onthou Rosaria die nonnetjiesuil wat sy en haar aweregse dogter grootgemaak het. Dit was voor Annalisa se rockmusiek van haar ’n kultusfiguur gemaak het, en voordat sy haar rug op haar ma gedraai het.
Rosaria se worsteling strek verder terug as haar kind se dood. Haar verlede word verder oopgeruk wanneer Annalisa se dogtertjie haar verskyning maak – ’n kleinkind waarvan Rosaria nooit geweet het nie.
Maar hoe het haar dogter gesterf? En hoe naby aan ’n laksman is Rosaria self?





