Description
Mila Verster is ‘n suksesvolle entrepreneur in Gauteng. Haar dogter, Tami, word eersdaags agttien, en Mila is reg vir ‘n nuwe hoofstuk: Sy gaan inskryf vir haar PhD en daarna met vakansie gaan.
Dis ook tyd dat sy en Conrad gesels. Vandat haar man se buitelandse kontrak beëindig is en hulle permanent onder dieselfde dak woon, besef sy opnuut hoe min hulle met mekaar gemeen het. En dan is Harriët, haar ma, ook besig om aan haar te karring om saam met Tami op die familieplaas te kom kuier – veertien jaar nadat Mila alle kontak met haar ma en broer, Fanie, verbreek het . . .
Wanneer Tami een middag spoorloos verdwyn, word Mila genoop om die sluier oor die verlede te lig, die gebeure te herbesoek en te ontrafel. Maar al genees tyd sommige wonde, bly die letsels rou en die pad na vergifnis kom teen ‘n prys.
Die skrywer: Susan Coetzer is landswyd bekend as aktrise, motiveringspreker en skrywer. Haar topverkoperroman, Oros vir die siel, het meer as 30 000 eksemplare verkoop. Sy woon en werk in Johannesburg en toer gereeld deur die land om by feeste en ander funksies op te tree. Selma en Louise (2018) en Die uil in die ysbos (2021) het ook by H&R verskyn.





