Description
Vir hom begin alles met ’n besluit: Om mense te nooi vir ete. En dan kom die groot beplanning: die datum, die gaste, die tema en dekor en laaste – maar seker die belangrikste – die spyskaart. In Herman se tafel bied Herman Lensing tien unieke spyskaarte, elkeen geskoei op ’n tema waarby al die gange – voorgereg, hoofgereg, nagereg en meer – pas. Die keurige geregte in hierdie boek is saamgestel met kundigheid en styl, maar is deurgaans gebruikersvriendelik en aanloklik. Daar is ou Suid-Afrikaanse bekendes, maar ook Italiaanse pastas en ’n Franse nagereg of twee; disse waarin vars kruie die kollig steel, kuierkos vir lank eet, afshow-geregte om jou gaste te beïndruk en ja, selfs happies vir honde. En dan wys hy jou ook hoe om jou tafel te dek: óf met uitspattighede, óf met dit wat jy reeds in jou huis het.
OOR DIE SKRYWER: Herman Lensing is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse kosskrywer, smaakmaker en TV-persoonlikheid. Nadat hy as sjef aan die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch gekwalifiseer het, is hy op 22-jarige ouderdom as kosredakteur van Sarie aangestel. In 2016 benoem Mail & Guardian hom as een van die 200 mees invloedryke jong Suid-Afrikaners. Oor die afgelope dekake het hy verskeie pryse ontvang vir sy TV-werk en publikasies, waaronder die Galliova-prys vir beste kosskrywer (2010, 2017, 2022), Media24 se Joernalis van die Jaar (2023) en Netwerk24 se Smaakmaker van die Jaar (2025). Hy is die skrywer van tien topverkoper-kospublikasies. Hy verskyn gereeld as aanbieder op die Afrikaanse TV-kanale kykNet en VIA, en was die kosvervaardiger van die gewilde kos-realiteitsprogramme Kokkedoor: Vuur en Vlam en MasterChef South Africa. Hy is die redakteur van Sarie Kos.





