Description
Ella Neser en Lou Pepler werk weer – soort van – saam as private ondersoekers by Pepler en kie. Maar die dag voordat Ella op pad is Brugge toe (na Harry Grimbeek – hartedief, volgens Pepler), daag ‘n verlangse familielid van Lou se eks op en smeek om hulp.
Liesbet se broer, Jasper, en sy neef Faan is albei wynboere van die Noord-Kaap, en twee jaar gelede is hulle na Hongarye om op ‘n wynlandgoed naby Boedapest werkservaring op te doen. Maar nou lyk dit die twee het tussen neus en ore verdwyn. Lou moet tog dringend die twee jong boere gaan vind, en in een stuk terugbring.
So vertrek Ella na België, en Lou na Boedapest. Maar iewers duskant die Donaurivier regeer daar ‘n mafioso met die mag van ‘n keiser. En diékant van die Donau waak Kasca die Eend, ná etlike jare steeds op soek na sy liewe sus sodat Mamsie vir eens en vir altyd tot rus kan kom.
‘n Donker reis wag op die twee gesoute speurders van Linden, Johannesburg . . .





