Description
Nie slegs die teks is dus in Winkel van wanklanke belangrik nie, maar oor die ruimte waarbinne dit geplaas word, hóé die woorde op papier gespasieer is, hoe die gedig vertoon, die effek en sensasie van die letters op papier. Deurlopend word die gedigte vergesel met humoristiese en sardoniese kommentaar, woordspel en fyn humor. Vele gedigte is kodes wat deur die interaktiewe leser ontsyfer moet word, en lei tot verskeie interpretasiemoontlikhede.
Winkel van wanklanke is Meyer se debuutbundel en hy skram nie weg daarvan om sowel groot figure in die Afrikaanse digkuns as internasionale kunstenaars soos Jackson Pollock, Picasso en Yves Klein in gesprek te tree nie. Dit is veral ‘n konseptuele bundel wat die idee van wat ‘n bundel is of kan wees bevraagteken.