Description
‘n Vroulike akademikus en skilder in haar middel-vyftigerjare, Carolien du Plessis, sit in haar woonkamer en lees koerant en kyk “met die een oog” na ‘n joernaalprogram op die televisie.
‘n Kenner van die forensiese patologie, kaptein Pieter de Klerk, verduidelik die moeisame proses om eers die skedel te reinig van alles wat aanhangsel is totdat net die been oorbly. Daarna word die skedel weer ewe moeisaam gerekonstrueer totdat dit menslike kontoere vertoon en by wyse van spreke as teken heenwys na die afwesige mens. Vervolgens toon De Klerk aan die kyker so ‘n gerekonstrueerde skedel. Dit is die reste van iemand wat ‘n slagoffer van ‘n misdaad was, maar wat nooit geïdentifiseer kon word nie.
Carolien merk met verbystering dat die opgeboude skedel sprekend lyk na ‘n man wat sy 15 jaar tevore vlugtig ontmoet het. Sy wil daardie tyd liefs nie onthou nie, vanweë die onrussituasie in Suid-Afrika in die negentigerjare, omdat sy toe in ‘n bestaanskrisis was, ‘n gespanne verhouding met haar man gehad het én ‘n besondere, hoewel kortstondige verhouding met die man wat sy glo sy herken, Jean, gehad het.
Carolien bel die televisie-omroeper, Amanda Louw, om meer uit te vind oor die skedel en die plek en omstandighede van die vonds. So begin sy met haar eie speurtog na Jean se lotgevalle, maar ook na ‘n moontlike verklaring vir aspekte van haar eie verlede.





