Description
Ontdek opnuut Samuel Beckett se tydlose meesterstuk, en herontdek die intrige wat oor die laaste 70 jaar wêreldwyd miljoene se lewensuitkyk verryk het. Al “gebeur daar niks nie, al kom niemand nie, en al gaan niemand ooit weg nie,” is daar altyd hoop.
Soos alle goeie dramas, is hierdie speelteks ook ‘n leesteks: almal wat belangstel in drama en in dramavertaling behoort ‘n kopie daarvan te hê.
Een van die belangrikste dramas van die afgelope eeu kry unieke Suid-Afrikaanse baadjie in hierdie opwindende Afrikaanse vertaling deur die bekroonde vertaler, Naòmi Morgan. Naòmi is professor: Afrikaans en Nederlands; Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat.
Ons wag vir Godot is die eerste Afrikaanse vertaling wat uit die oorspronklike Franse teks vertaal is; die première het by die Vrystaat Kunstefees in Julie 2024 plaasgevind. Soos alle vertalings, is ook hierdie een ’n respekvolle eerbetoon aan die outeur van die brontekste, maar ook aan die teikentaal, wat in 2025 eenhonderd jaar oud sal wees.
Die oorspronklike Franse uitgewer, Les Editions de Minuit, het toestemming gegee dat slegs 300 eksemplare daar-van deur Naledi gedruk mag word. Om een só ‘n eksemplaar te besit, is om reeds die vreugdevure aan te steek vir Afrikaans se honderdste verjaardag in 2025. Dit sal definitief ‘n versamelaarsitem word.
Almal wat betrokke is by hierdie projek (die vertaler, die uitgewer, die produksiespan) is trots om Afrikaans op hierdie wyse te vier: Vladimir sou ook gedink het dat honderd jaar ’n goeie getal is om ’n taal te slyp vir die vertaling van een van die bekendste dramas in die wêreldrepertoire.





