Description
Dawid Uys, ’n jong dominee op die platteland word gekonfronteer met vrae oor sy oorsprong en ook sy geloof wanneer daar skielik geleenthede en uitdagings oor sy pad kom. Hy kom ook te staan voor moeilike keuses wanneer hy ’n onverwagse oproep van ’n prokureur kry en hoor dat hy Oom Boela se plaas, Aurora, geërf het. Dawid het Oom Boela skaars geken en nou kom die plaas nog met ‘n klomp bepalings en voorwaardes.
Die plaas en die kerk sorg vir eindelose struikelblokke en dan is daar nog Dawid se liefdeslewe ook. Hy moet konfrontasies op die kerkraad en moeilike plaaswerkers hanteer en intussen raak hy verlief op die buurman se dogter. Daar is ook ’n nuwe intrekker op die dorp, ’n beeldskone enkelma met ’n misterieuse verlede. Aurora neem vir Dawid en die leser op ’n geestelike reis soos min en die uiteinde van die verhaal is amper so onvoorspelbaar soos die lewe self.
Ooor die skrywer: Tertius van Rensburg is ’n siviele ingenieur van beroep, ’n besproeiingsboer en wiskundedosent. Ná sy aftrede begin hy skryf en publiseer sy eerste novelle in 2000 in Huisgenoot en skryf ook daarna ’n klomp kortverhale. Sy groot deurbraak kom toe hy as die beste debuutskrywer in LAPA se jeugromankompetisie 2019 bekroon word. Hy skryf oor gewone mense wat in gewone situasies beland. Tertius is aktief betrokke by die kerk, Gideons Internasionaal en die ATKV. Hy is gelukkig getroud en hy het drie seuns en sewe kleinkinders.





