Description
Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervaringe in die 1980’s. Dit is die tyd van PW Botha se vinger, van die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelinge en die laaste dae van diensplig. Dana word oneervol ontslaan uit die weermag, maar eers maak hy ‘n draai in Saal 24. Werkloos en doelloos eindig hy in ‘n gewese bediendekamer in Pretoria.
Dié rou, selfonthullende memoir vra: hoe word ‘n seun ‘n man? ‘n Seun wat nie ‘n meisie se aandag kan trek nie? ‘n Seun wat nie goed genoeg is vir die weermag nie?
Met Seun neem Dana lesers in sy vertroue. Dit is ‘n aangrypende relaas oor grootword tydens die doodsnikke van ‘n politieke stelsel, oor manlikheid en oor eer, en oor die liefde wat uiteindelik alles oorkom.
“ ‘n Brawe besinning oor die lang skadu’s wat belewenisse uit die verlede tot in die hede bly gooi. Met helder, gedistilleerde beskrywings maak Snyman hier ‘n stuk geskiedenis staan wat enersyds herkenbaar universeel, maar andersyds ook verbasend persoonlik is. Seun laat jou met ánder oë na Snyman se skryfwerk kyk.” – Thys Human
Die skrywer: Dana Snyman is ’n bekroonde skrywer met ’n rits topverkopers agter sy naam. Sy eerste TV-reeks, Op pad met Dana, het verskeie seisoene beleef. Hy het meer as 66 000 volgelinge op Facebook, waar hy van sy stories deel, met oorweldigende reaksie van lesers. Sy tweede reeks, Grondpad geloof, beeleef ‘n tweede seisoen in laat-2024.





