Description
Die opgang wat Jakes-wat-Gert-was in die akademie en politiek gemaak het, was buitengewoon. Later, as visekanselier van die universiteit wat ’n tuiste vir linkses was, en as direkteurgeneraal in die kantoor van Nelson Mandela, het hy ’n enorme rol in ons politieke oorgang gespeel. As sy lewensmaat het Phoebe die wêreld gesien, en ontmoet. Sy was vir die rol uitgeknip.
Tien jaar ná Jakes se onverwagse dood vertel Phoebe met haar kenmerkende sin vir humor aan die gewilde skrywer Rachelle Greeff van hoogtepunte in hulle lewe saam. Sy maak ook haar hart oop oor haar sielsallenige laagtepunte en oor die “donker derde party” wat in haar en Jakes se huwelik nesgeskop het: ‘n ongeneeslike geestestoornis. Maar met die regte hulp, begrip van geliefdes en deursettingsvermoë was dit nie vir Phoebe ‘n doodsvonnis nie, en was selfs ‘n skreef lig meermale vir haar genoeg.
Nelson Mandela het met hulle eerste ontmoeting verklaar dat hy nou verstaan waarom Jakes Gerwel die wêreld wil verander. Phoebe is inspirerend, en lewer bewys van die veerkragtigheid van die menslike gees.
OOR DIE SKRYWER –
Rachelle se werk is meermale in verskillende genre’s bekroon, en sy is die fasiliteerder en aanbieder van die skryfskool by die Breytenbachsentrum op Wellington. Sy was verbonde aan die redaksie van NG Kerk-Uitgewers, Die Burger en Huisgenoot en was vir ses jaar die boekeredakteur by Rapport.





